Hoe Wil GOD Hê Moet Ons HOM Loof?

//Hoe Wil GOD Hê Moet Ons HOM Loof?
Hoe Wil GOD Hê Moet Ons HOM Loof? 2018-02-26T11:37:54+00:00

Ek vra maar net.  Want jy sien, dit wat by herhaling in die Bybel staan, is nie wat ek sien werklik toegepas word in alle kerke nie.  En nêrens merk ek dat die Bybel enige aanduiding gee dat sommige kerke dit maar mag doen soos die Bybel sê, terwyl ander kerke dit nie so hoef te doen nie!  Die Bybel is immers die riglyn vir elke mens wat homself ‘n Christen wil noem – VERAL wat betref ons lof aan die enigste groot, Almagtige en alomteenwoordige God en Vader! Wat bepaal in die éérste plek hóé mense God loof en prys?  Weet jy waar lê die antwoord? In daardie persoonlike ontmoeting met God, en die ontvangs van Heilige Gees binne-in ons! Iemand wat Jesus Christus persoonlik ken, kan nie meer anders nie, hy verander onmiddellik.  En hy is nie meer bang om die lewende God te prys en te aanbid met die vólle spektrum van sy liggaam, siel en gees nie!

Kom ons kyk bietjie na ‘n stukkie uit die geskiedenis van koning Dawid, en wanneer ons die woorde van 2 Samuel 6: 12-23 lees, dan kom ons op die volgende interessanthede af.  Eerstens merk ons dat Dawid die ark “…met vreugde…” uit die huis van Obed- Edom gebring het. Dit is daardie selfde vreugde wat deur mens spoel wanneer jy die lewende “ark” van die Nuwe Testament (Jesus) uitbring vanuit die plek waar Hy NIE hoort nie, terug na die een plek waar Hy wél hoort, in die “tempel”!  En wie is die “tempel” vandag?  Ja, die mens self!  Sodra die “ark” terugkeer na waar Hy van die begin van tyd af hoort, binne-in elkeen van ons, kán daardie “tempel” nie anders as om daagliks met groot vreugde te begin handel nie!

Toe Dawid die ark laat haal het, het hy, wat sekerlik die mees suksesvolle en magtigste koning van alle tye in Israel se geskiedenis was, “…met alle mag gedans voor die aangesig van die Here.” Hy (die koning, die voorloper, die leier, die man met die STATUS) was dus nie bang om “voor die mense” ‘n spektakel van homself te maak vir Sy God nie! HOEKOM is ons vandag so bang om selfs net ‘n ou bewegingkie met ons hande of voete te maak voor die lewende Jesus Christus, die “ark” van die Nuwe Testament? Is dit dalk omdat ons bang is oor wat DIE MENSE van ons gaan dink? In daardie geval, lees asseblief net weer die woorde van Galasiërs 1:10 vir ons. Vriend, probeer gerus in die Bybel opspoor of daar ‘n oomblik aangebreek het waarin ons verbied is om dit ook soos Dawid te doen?

Dawid en die volk het die ark “…met gejuig en basuingeklank opgehaal.” HOEKOM mag ons nie deesdae ook voor God juig en jubel met ‘n groot lawaai nie?  Watter Bybelvers het dit verbied?  Of was dit bloot een of ander menslike struktuur, of menslike “beleidsdokument” wat bepaal het dit MAG NIE so gedoen word in “die kerk” nie?

Maar lees net verder, Migal, Dawid se vrou, het hom “verag” oor sy gedansery, sekerlik omdat sy gedink het dit is “benede die koning” om hom so te gedra VOOR GOD!  HOEKOM dink so baie van ons mense vandag ook dit is benede ons, of onaanvaarbaar, of nie “skriftuurlik”, om voor God te dans of te juig, of selfs net ons hande op te steek om Hom te loof nie?  En wat antwoord Dawid haar: “.ja, voor die aangesig van die Here sal ek vrolik wees!”   Net so moet ons vandag nog voor die aangesig van die Here vrolik wees.

Maar..WAARSKUWING! Kyk net wat gebeur met Migal – Omdat sy Dawid verag het omdat hy voor God vrolik was, was sy onvrugbaar tot die dag van haar dood.  Hierdie is baie beslis ‘n waarskuwing aan elkeen van ons vandag om intense selfondersoek te doen, want dit sê vir my dat, as ek iemand anders oordeel of “verag” wat op enige gegewe stadium onder leiding van Heilige Gees dans of jubel, of sy hande opsteek in die kerk, of énigiets anders onder Sy leiding doen, ek ‘n oordeel oor MYSELF uitspreek, aangesien ek effektief op daardie oomblik nie teen daardie persoon praat nie, maar teen die optrede van Heilige Gees self ín daardie persoon!

En net om dit dalk vir ons ‘n bietjie duideliker te maak oor hoe ons Hom EINTLIK moet loof en prys, kom ons kyk na sommige van die MEES FANTASTIESE lofliedere aan God wat ooit in die geskiedenis van die wêreld geskryf is, naamlik, die Psalms:

LUID roep ek die Here aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg.” (Psalm 3:5)“Ek sal die Here HARDOP loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys.”(Psalm 109:30 )  

Ek roep God dus nie net saggies, agter my hand, of in my gedagtes aan nie. Nee, ek roep Hom luid, HARDOP, aan!  En jy kan verseker wees dat hierdie luide aanroep NIE net is wanneer ons besig is om ‘n psalm of ‘n gesang in die kerk te sing nie.  Dit sluit baie beslis ook daardie geleenthede in waar ek Hom hardop met my stem loof en prys deur ‘n gebed, of sommer net ‘n gejubel saam met ‘n menigte ander mense, of selfs net waar ek alleen in Sy pragtige natuur loop of ry!

“Ek wil die Here loof met my hele hart. In U wil ek bly wees EN JUIG; ek wil psalmsing tot eer van U Naam, o Allerhoogste..” (Psalm 9:2,3) “Wees bly in die Here EN JUIG, o regverdiges! En JUBEL, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11)

Kan mens “juig” en “jubel” op ‘n sagte, stemmige, stigtelike manier?  Veral as ons kyk wat die woordeboek in Engels die woord: “juig” mee vertaal, naamlik: “rejoice, exult, jubilate”.

“Tog is U die Heilige wat woon onder die LOFSANGE van Israel!” (Psalm 22:4)

Waar woon God?  In Sy kinders se lofsange!   En Hy woon nie net Sondae daar nie, maar elke oomblik van elke dag wat Sy kinders hom so loof en prys!

“Julle wat die Here vrees, PRYS HOM! ” ( Psalm 22:24 )

As ek ‘n persoonlike verhouding met God het, wat ‘n liefdevolle, eerbiedige vrees vir Hom tot gevolg het, KAN ek nie anders as om Hom te loof en PRYS nie!

“U het my weeklag vir my verander in ‘n KOORDANS, U het my roukleed losgemaak en my MET VREUGDE omgord. Here, my God, vir ewig sal ek U LOOF.” ( Psalm 30:12,13 )

Wat gebeur onmiddellik met ‘n mens wanneer God hom verlos van sy “ou” lewe, van al die ou gemors wat hy met hom saamgedra het?  Hy word VREUGDEVOL en wil net begin DANS en God vir ewig LOOF!

“Loof die Here met die siter ; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.  Sing tot Sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” ( Psalm 33:2,3 )“Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter ; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit ; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!” ( Psalm 150:3-5 )

Hierdie twee verse het my opgeval, juis omdat so baie mense deesdae nog steeds weier om met enigiets anders as ‘n orrel in hulle “kerk” te sing.  Wanneer het hulle in die Bybel begin om SLEGS met ‘n orrel God te loof en prys? En as dit dan nie die Bybel was wat dit so voorgeskryf het nie, WANNEER het die menslike kerkwette of beleidsgeskrifte, wat daartoe gelei het dat lofliedere in die kerk slegs met ‘n orrel gesing moet word, vir ons belangriker geword as die Bybel self? Kan jy net dink wat ‘n FANTASTIESE geluid van lofprysing en aanbidding moes al daardie bogemelde instrumente nie meegebring het nie? Soos ek ‘n basuin, simbaal en tamboeryn ken, is dit nie juis iets wat net ‘n sagte, strelende geluid maak nie!

“Ek wil die Here ALTYD loof; Sy lof sal ALTYDDEUR in my mond wees.” (Psalm 34:2)

As ek mooi na hierdie vers kyk, sien ek baie duidelik dat ek die Here ALTYD sal loof en Sy lof ALTYDDEUR in my mond sal hê.  Beslis NIE NET Sondagoggende nie!

“Ek sal U loof in ‘n groot vergadering; onder ‘n groot skare sal ek U prys.”(Psalm 35:18)

Waar gaan ek God dus loof en prys?  Voor ‘n groot skare, – nie net waar ek alleen is nie.  Ja, dit sluit seer sekerlik in wanneer ek in die kerk my lofsange tot Hom sing, maar weet jy wat?  Dit sluit ook in wanneer ek tussen “‘n groot skare” van my daaglikse vriende is!

“In God roem ons die hele dag, en U Naam sal ons loof tot in ewigheid.” (Psalm 44:9) “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die Here geloof word!” (Psalm 113:3)

Watter gedeelte van die dag? En vir hoe groot gedeelte van ons lewens? Dit kan, en moet juis óók gedoen word terwyl ek my gesin versorg, of by die werk is, of by my vriende is!

“Alle volke, klap met die hande ; juig tot eer van God met ‘n stem van gejubel! “(Psalm 47:2)

Oepsie!  WIE het hier OPDRAG om hande te klap? ALLE VOLKE (en sekerlik ook hulle kerke dan, uit die aard van die saak)!  En met watter tipe stem moet daar tot eer van God gejuig word? MET GEJUBEL!  Kom ons kyk hoe stel die King James Version van die Holy Bible dit: “O clap your hands, ALL ye people; SHOUT unto God with the voice of triumph.”  Ek dink jy sal met my saamstem, dat ‘n: “shout with the voice of triumph”, nie ‘n sagte, stil, stemmige, gewyde geluid is nie!  Inteendeel!  Waarom dan, is ons so bang om ons stemme tot eer van God te verhef wanneer ons Hom loof en prys?  Waarom mag ons nie ons hande SPONTAAN klap wanneer ons besig is om Hom te loof en prys nie?

“Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.  Só sal ek U prys my lewe lank, in U Naam my hande ophef.” ( Psalm 63:4,5 ) “Ek wil dan hê dat die manne op ELKE plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.” ( 1 Timotheus 2:8 )

Waar kom sommige kerke daaraan dat mens jou hande opsteek as jy God loof en prys?  Onder andere in hierdie aangehaalde twee teksverse, wat baie duidelik, en sonder omhaal van woorde stel dat ek Hom sal prys MY HELE LEWE LANK, en IN SY NAAM MY HANDE SAL OPHEF, en ook dat ons OP ELKE PLEK moet bid en HEILIGE HANDE (moet) OPHEF.  Dit beteken dus effektief dat, die oomblik wanneer ek Sy wonderlike Naam noem, daardie Naam bo alle name oor my lippe laat kom, my hele lewe lank, of as ek besig is om Hom te aanbid, MAAK NIE SAAK WAAR EK IS NIE, sal my hande outomaties in die lug in vlieg! As ‘n teken van lof, eer en respek vir die lewende God, en NIKS meer en NIKS minder nie!   Wie is die mens wat dit DURF waag om enigiemand anders te veroordeel wat die lewende en almagtige God wil loof, prys, aanbid en respek betoon deur sy hande op te hef na Hom? Onthou wat met Migal gebeur het.

“U is my God, en ek WIL U loof; o my God, ek WIL U verhoog.” (Psalm 118:28)

Wie se God, sê die Bybel is Hy? MY God, en ook JOU God! En weet jy, DAAROM wil ons Hom óók verhoog!

“Hoe lief het ek U wet, dit is my bepeinsing die hele dag.”  (Psalm 119:97)

Hoekom wil ek juis God se wet, die wet van die LIEFDE, oordink die HELE DAG LANK? Omdat ek Hom, en Sy wet van die liefde, LIEFHET! Omdat ek met Hom ‘n persoonlike verhouding het!

“My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my U insettinge.” (Psalm 119:171)

Sien jy, vriend?  “Lofsange laat uitstroom”.  Nie net een of twee of drie liedere voor die preek en weer twee of drie na die preek nie.  Nee, lofsange sal dag en nag by my lippe uitstroom, omdat ek so vervul word met Hom, en met Sy opdragte en Sy insettinge, en omdat ek ook luister na musiek oor Hom!

“Kom, loof die Here, o alle knegte van die Here wat snags in die huis van die Here staan! Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE! “ (Psalm 134:1,2)

Lees net wat sê hierdie teksvers – hoe loof ons die Here?  Deur ons hande OP TE HEF na die heiligdom! Doen jy dit al so? Ek sê niks meer nie.  Laat die Heilige Gees self verder met jou oor hierdie aspek gesels.

“Laat ALLES wat asem het, die Here loof. Halleluja!” (Psalm 150:6)

Hierdie vers kan ook omgekeer word om te lees: As iets die Here NIE loof nie, moet dit eerder ophou asemhaal, want as dit asemhaal, MOET dit die Here loof! Uit die oorspronklike Hebreeus waarin die Ou Testament geskryf is, kom ons onder andere af op die volgende woorde wat in verskeie teksverse gebruik is, wat lofprysing van God aandui, naamlik:

YADAH – Om God te loof met uitgestrekte hande.  Hierdie woord kry ons byvoorbeeld in die oorspronklike teks in Psalm 63:5: “Só sal ek U prys (Yadah) my lewe lank, in U Naam MY HANDE OPHEF.” Of ook in Psalm 134:2:“HEF JULLE HANDE OP (Yadah) na die heiligdom, en LOOF DIE HERE!”

TOWDAH – Beteken ook om God te loof met uitgestrekte hande, maar het ‘n verdere element betrokke, naamlik: in aanbidding, verering, erkenning, bekentenis en aanvaarding.  Hierdie woord kry ons in die oorspronklike teks onder andere in Psalm 50:23 : “Die een wat dank offer (TOWDAH), EER MY; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal ek die heil van God laat geniet.”

ZAMAR – Beteken “om die snare aan te raak” en word in die Bybel elke keer gebruik waar verwys word na “instrumentele lofprysing” soos, byvoorbeeld die woorde van Psalm 150:3-5, wat ek reeds hierbo aangehaal het: “Loof Hom (ZAMAR) met basuingeklank, loof Hom (ZAMAR) met harp en siter; loof Hom (ZAMAR) met tamboeryn en koordans, loof Hom (ZAMAR) met snarespel en fluit; loof Hom (ZAMAR) met helder simbale, loof Hom (ZAMAR) met klinkende simbale!”

SHABACH – Beteken om God te loof met ‘n geroep (“shout”) en ‘n luide stem. Hierdie woord sien ons byvoorbeeld in Psalm 63:4: “Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys (SHABACH).”

TEHILLAH – Beteken ‘n lofprysing vanuit jou gees, vanuit die hart van die gelowige, en ook om te sing, of te LOOF!  Dit is juis in hierdie vorm van lofprysing waar God woon, soos ek reeds daarna verwys het in Psalm 22:4:“Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange (TEHILLAH) van Israel!”

Hierdie woorde wat lofprysing aandui, word herhaaldelik in die Bybel gebruik en toon net vir ons hoe wonderlik is dit eintlik om God te loof en prys, en watter wonderlike voorreg is dit nie vir ons om dit MET OORGAWE, hierdie oorgawe wat deur die betrokke Hebreeuse woorde aangedui word, te kan doen nie.  Ons kry verder in die Hebreeus ook die woorde “HALLAL”, vanwaar die woord Halleluja afgelei word, wat beteken: “om duidelik te wees, te skyn, te spog, te wys, te vier”, asook “BARAK”, wat soms vertaal word met: “om te prys, of om voor God te buig in ‘n aanbiddende gesindheid”, en soms vertaal word met: “om God te prys met die verwagting om iets te ontvang.” Ek kan dus nie anders as om te dink dat die ou Israeliete iets in hulle lofprysing en aanbidding van God gehad het, wat ek en jy eenvoudig vandag nie ken nie. Hulle het die woorde wat hulle gebruik het vir, en in, hulle aanbidding, absoluut UITGELEEF, UITGEJUBEL, UITGEBASUIN!  Juis omdat die lewende God vir hulle so ‘n werklikheid was!

Hoekom doen ons dit dan nie vandag nog in ons lofprysing en aanbidding van God nie?  Wat het verander dat ons oor die jare geleer het ‘n mens mag nie voor God dans en juig en jubel en lawaai nie? Wat het daartoe gelei dat ons die opinie gevorm het, en uiteindelik effektief oortuig is dat dit so MOET wees in die kerk, dat God slégs geprys kan word met ernstige gesigte, en met stram ledemate wat nie mag beweeg nie? Is dit dalk juis omdat die lewende God nie vir óns so ‘n werklikheid is as wat Hy vir die ou Israeliete was nie?

Ek hoor jou sê: “Nee man, nou praat jy twak! EK doen dit op hierdie manier, want dís hoe EK gemaklik voel, dís hoe EK grootgeword het, en dís hoe EK glo ‘n mens God moet dien en loof, klaar en verby!”  Ek hoor jou, vriend, maar as jy net weer kyk na al die teksverse hierbo, wat almal uit God se Woord, uit Sy “Handboek vir die Lewe” uitkom, hoe dink jy WIL GOD hê moet jy Hom loof en prys?  Soos jy in die kerk, of deur jou ouers geleer is/word, of soos die Bybel sê? En maak nie saak of jy daarmee gemaklik voel of nie!  Sê die Bybel nie baie duidelik dat ons juis moet VERNUWE wanneer ons met Hom ‘n persoonlike verhouding aanknoop nie? (Efesiërs 4:22,23). En wat beteken dit om te VERNUWE?  Is dit dan nie juis om te VERANDER nie?  Om dinge juis NIE MEER te doen soos wat jy dit in die verlede gedoen het nie? En ek herhaal: Wat bring dáárdie onmiddellike verandering mee in my lofprysing en aanbidding van God? NET ‘n PERSOONLIKE VERHOUDING MET JESUS CHRISTUS, wat jou bevry van dempende, knellende, tradisionele bande en wyses van lofprysing en aanbidding.

Ja!!! Kom ons loof en prys ‘n groot en Almagtige God . soos Hy wil hê ons dit moet doen!

tiaan gildenhuys – 20/10/2001