JESUS, Man Van Vreugde!

//JESUS, Man Van Vreugde!
JESUS, Man Van Vreugde! 2018-02-26T11:37:53+00:00

Jesus loop stadig en statig tussen die mense deur, Sy gesig ernstig op ‘n plooi getrek. Afgemete en presies spreek Hy Sy woorde een vir een uit, vir duidelike effek.  Vanweë die diep frons op Sy voorkop, is dit duidelik dat Hy baie beslis ‘n ernstige godsdienstige mens is. Daar is geen sweempie van ‘n glimlag op Sy gesig nie. Niemand waag dit om ‘n grap te maak waar Jesus is nie, want Hy sal gou so ‘n persoon met ‘n vinnige frons laat afsien van sy voorneme.  Al die mense wat al met Hom te doen gekry het sedert Hy die afgelope aantal maande in hierdie omgewing begin bedien het, praat van die feit dat Hy nooit oor enigiets lag of skerts nie, maar dit pla hulle glad nie – dit hoort mos so by ‘n kerkmens. Hy is immers die toonbeeld van hoe ‘n heilige, godsdiensbeoefenende persoon teenoor mense rondom Hom moet optree. Godsdiens is ernstige sake, soos almal weet.  Daar is nie plek vir skerts en lag en spring en plesier nie! Alles moet stigtelik gaan, alles moet besadig wees, mense moet nie geaffronteer word deur jou woorde of optredes nie.

Ja, liewe vriend, ons aanvaar so maklik dat dít is hoe Jesus opgetree het. Volgens die oorheersende (wan)persepsie in ons koppe oor Hom, wat ons oor baie jare aangeleer het, het Hy blykbaar maar bitter min gelag terwyl Hy besig was met die mense, Hy het skynbaar nooit enigiemand geaffronteer nie (veral nie die Fariseërs en skrifgeleerdes nie), Hy het nooit met DRIF en VUUR en met PASSIE gepraat oor Sy Vader se Koninkryk nie, en was Hy sekerlik altyd net stigtelik en besadig.  As dit dan níé die persepsie in ons koppe is van Jesus nie, waarom tree óns dan so op?

Dink jy regtig dit was Jesus wat ek hierbo beskryf het, vriend? Daardie Jesus waarvan die Bybel praat? Jesus Christus, die Weg, die Waarheid en die Lewe. Jesus, die brood van die lewe. Jesus, die Lig van die wêreld! Dink jy daardie eerste paragraaf is beskrywend van híérdie Jesus? Nie? Indien nie, dan beteken dit mos die teendeel ten opsigte van Hom is waar.  Die teendeel?  Ja, vriend, ja, dat Hy inderdaad in teenstelling met daardie beeld van hom in ons “kerkkoppe”,  ‘n man van VREUGDE was! ‘n Man wat met ‘n borrelende lag soms langs die meer van Galilea gehardloop en gebokspring het, wat sommige van die jong kindertjies wat na Hom toe gekom het, opgeraap en speels die lug in gegooi het! Selfs terwyl Hy besig was om die mense op die berg, of op ander plekke, te leer. ‘n Man wat van oor tot oor geglimlag het as Sy dissipels in hulle onskuld een of ander kinderlike “dom” vraag vra oor Sy koninkryk. Hy het hulle nie net heeldag en aldag streng en ernstig tereggewys nie, alhoewel Hy dit wel by geleentheid gedoen het waar dissipline nodig was.

Vriend, en as Jesus dan in werklikheid so ‘n man van vreugde was, hoekom het ons almal hierdie gedagte dat kerkmense, of Christene, of kinders van God, wat ons onsself ookal wil noem, binne en/of buite die kerk suur moet wees, nors moet wees, altyd met ‘n lang gesig en/of frons moet rondloop?  Dat die lang gesig en diep frons die enigste manier is om in die kerk(gebou) of daar buite, aan die mense om ons en die wêreld te probeer bewys dat ons “heilig” is of “heilig” lewe?  Of, goed, as jy dan NIE met my saamstem dat Christene vandag nog met lang, of suur gesigte, rondloop nie, waarom sien ons dan so MIN van Jesus se ware VREUGDE in daardie Christene se alledaagse lewe – daar waar die tekkie die teer slaan, waar die wêreld vir die Christene kyk ?  Want jy sien, dis juis as gevolg van ons Christene se optrede elke dag daar buite in die wêreld, dat so baie mense weier om ‘n Christen te word, weier om vir Jesus Christus in sy lewe te kies.  Want dit wat ons agter ons maskers voorgee op Sondae, en dit wat van Maandag tot Saterdag gebeur by die werk en op die sportveld, is twee duidelik verskillende, en vir die wêreld baie duidelik waarneembare, dinge, wat in o, so baie gevalle lei daartoe dat mense fisies afgesit word van “Christenskap”.  En die punt is juis dat Jesus Christus verwag dat ons kind-van-Godskap ‘n lewenswyse moet wees wat mense na ons toe áántrek, nie van ons af wégstoot nie!

Nou goed, kom ons kyk – Waar kom ek daaraan dat Hy ‘n man van vreugde was?  Ag, liewe mens, soos nog altyd, kyk ek net wat sê die Bybel self daaroor.  In die Ou Testament het die “kinders van Korag” dit as volg oor Jesus geprofeteer in Psalm 45:8:

“U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, U God U gesalf met VREUGDE-olie bo u metgeselle.”

Hierdie profetiese woorde is woordeliks herhaal in die Nuwe Testament, nadat die bogemelde profesie met Jesus se eerste koms vervul is,  en wel in Hebreërs 1:8-9

“(M)aar van die Seun (sê die Vader): U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van U koninkryk is ‘n regverdige septer; U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, U God U gesalf met VREUGDE-olie bo U metgeselle.”

Kyk net, wáármee is Jesus gesalf? Is Hy gesalf met ‘n lang gesig, met mismoedigheid, met neerslagtigheid, met depressie, met fronse, met suurheid? Nee! Hy is gesalf met VREUGDE-OLIE!  Met ander woorde, MET BLYDSKAP! Nou kan jy maklik sê ja, maar dit was Jesus, dit is nie op óns van toepassing nie. Wel, vriend, as jy só gaan redeneer, gaan jy beslis verkeerd wees. Kom ons kyk deur Jesus se oë daarna. As ons kyk na Jesus se eie woorde in Johannes 20:21, sal ons sien dat dit wat Hy was, en dit wat op Hom van toepassing was, beslis óók vandag op ons van toepassing is:

“Jesus sê toe … vir hulle: … Soos die Vader My gestuur het, (so) stuur Ek julle ook.”

Oepsie!  As die Vader Jesus dus gesalf het met, en (uit)gestuur het, met VREUGDE-OLIE, met BLYDSKAP, waarmee salf en stuur Jesus óns dan uit?  Met presies daardie selfde vreugde-olie!  Het ons dus enige rede of argument om NIE óók met vreugde op te tree in ons daaglikse omgang as kinders van God nie?  Baie duidelik uit net die bogemelde paar verse, het ons geen gronde om as kinders van God heeldag met ‘n lang gesig rond te loop, of om te dink dat ons suur moet lyk terwyl ons in die kerk sit, of dat ons nie mag glimlag of skerts of lag in die kerk, of terwyl ons in die gemeente sit nie.  Jesus was ongetwyfeld ‘n man van vreugde, en Hy verwag van ons as Sy kinders, – as Sy ware beelddraers hier op aarde – om daarom óók so vol vreugde te wees! ‘n Beeld van vreugde, van blydskap, van positiwiteit, van OORWINNING!

(Uittreksel uit die boek: “Kinders van God is vol Vreugde!” – tiaan gildenhuys)