Kom Stap Die Pad Met JESUS

//Kom Stap Die Pad Met JESUS
Kom Stap Die Pad Met JESUS 2018-02-26T11:37:53+00:00

Kom ons stap die pad saam met Jesus Christus van Nasaret, van dáár waar dit werklik begin het. Die profesie word ontvang:

“Want ‘n Kind is VIR ONS gebore, ‘n Seun is AAN ONS gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors…“ (Jesaja 9:5)

Wonderlik om te sien VIR WIE hierdie Kind gebore is, en AAN WIE hierdie Seun gegee is, nê? Die profesie word vervul:

“En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle VANDAG in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Lukas 2:8 – 14)

Kyk net daar, selfs vóórdat Jesus een enkele tree kan loop, leer ons al klaar wat gaan met ons almal gebeur wanneer ons Hom die dag werklik persoonlik ontmoet. Presies dit wat met daardie herders gebeur het.

“En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit GESIEN het, het hulle oral die woord BEKEND GEMAAK wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.” (Lukas 2:16-20)

Ja, elke mens wat Jesus Christus persoonlik ontmoet, en sien dat Hy inderdaad ‘n werklikheid is, kan nie ánders as om órals die woord oor Hom bekend te maak nie. Met ander woorde, om oor Hom te getuig! En die resultaat van dit wat so vertel word, bring ander mense ook in verwondering oor die getuienis wat aan hulle vertel word, wat weer daartoe lei dat mense teruggaan na hulle eie huise en God verheerlik en prys oor dit wat hulle gehoor en gesien het.

Dan begin Jesus stap. Toe Hy twaalf jaar oud was, gaan sy ouers volgens hulle geloof se tradisie na Jerusalem om die Paasfees te gaan vier. Op pad terug huis toe, vind hulle uit Jesus is nie saam met hulle nie. Wanneer hulle terugdraai Jerusalem toe, kry hulle Hom in die tempel waar hy tussen die leraars sit en hulle selfs uitvra.

“En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde. En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek. En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie? En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.” (Lukas 2:47-50)

Kan ek en jy iets leer by die twaalfjarige Jesus op hierdie pad wat ons nou saam met Hom begin stap het? Baie beslis ja. Sy antwoord aan Sy ouers is ook die vraag wat vandag nog aan elkeen van ons gevra word: “Het julle nie geweet dat JULLE (VANDAG NOG) in die dinge van JULLE (Hemelse) Vader moet wees nie?” Sonder enige twyfel was dit nie net Jesus wat in die dinge van Sy Vader moes wees nie, maar beslis ons ook. So lees ons dat Hy aan die einde van Sy bediening vir Sy dissipels (vandag is dit jy en ek), sê:

“Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! SOOS die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Johannes 20:21)

Met ander woorde, PRESIES dit wat Hy gedoen het, moet ons vandag ook doen. En slegs as ons werklik erns begin maak met die Woord van God, met die Bybel, sal ons kan vasstel wat is die “dinge” van ons Hemelse Vader waarin ons veronderstel is om te wees. Dit is daardie dinge waarin Hy graag wil hê ons moet wees. ‘n Twaalfjarige Jesus het tussen die leraars gaan sit en hulle uitgevra. Beteken dit Hy het maar net alles wat hulle gesê het, aanvaar as waar en reg? Beslis nie, want die Bybel sê ook: “…almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor Sy verstand en Sy antwoorde.”  Baie duidelik het Hy hulle dus antwoorde verskaf op dinge wat hulle op hulle beurt van Hóm gevra het, wat selfs die geleerde mense verbaas het. Is dit moontlik dat jy en ek ook vandag vrae aan die leraars en “geleerde mense” rondom ons mag vra, en dat ons dalk onder leiding van die Heilige Gees ook antwoorde aan hulle sal gee wat hulle sal verbaas? Verseker, want dit is hoe Jesus gestap het, en ons stap mos die pad saam met Hom, as ons Sy volgelinge is. En deur dit te doen, sal dit gebeur dat ons ook as “metgeselle” van Jesus herken word, selfs al is ons “ongeleerde” mense, teenoor die slim en geleerde mense, die leraars en gegradueerdes se kwalifikasies:

“En toe hulle (die Joodse Raad = die leraars) die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”(Handelinge 4:13)

Kan daar iets meer wonderlik wees as om as “metgeselle van Jesus” herken te word? Ek dink nie so nie! Ons moet dus op hierdie nuwe pad te alle tye gereed wees om ‘n antwoord aan enigiemand rondom ons te gee oor dit wat binne-in ons harte brand.

“Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid omverantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; met behoud van ‘n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.” (1 Petrus 3:15, 16)

“Laat niemand jou jonkheid (uit die aard van die saak, ook jou jonkheid in die geloof) verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.” (1 Timotheus 4:12, 13)

Duidelik sien ek uit hierdie twee teksverse dat ek, as een van Jesus Christus se dissipels vandag, gereed moet wees om met enigiemand te praat oor dit wat binne-in my LEWE, daardie HOOP wat nét Jesus Christus kan bring. Ek mag dit egter nooit doen uit hoogmoed of ydelheid nie, maar slegs met beskeidenheid en eerbied vir God, en in liefde en reinheid. Maar selfs in daardie beskeidenheid, liefde en reinheid moet ek nie bang wees vir mense, of ophou om mense rondom my te wys wat die Bybel sê oor hoe ons moet lewe nie. Ek moet dit by elke moontlike geleentheid doen, “tydig en ontydig” soos die Bybel sê, en ophou bang wees vir die leuen van Satan wat my gaan probeer wysmaak ek “dweep”, of ek “loop met die Bybel onder die arm.”

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; HOU AAN TYDIG EN ONTYDIG; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2 Timotheus 4:1-4)

Ek het in die woordeboek gaan kyk wat beteken “dweep”. Dit beteken: “…om oordrewe ingenome te wees met…” Ek is persoonlik beslis oordrewe ingenome met my Hemelse Vader en wat Jesus Christus vir my aan die kruis gedoen het, so ek dweep elke dag met ‘n glimlag. Ek is ook nie bang of skaam om met die Bybel “onder die arm” te loop nie, want eerstens weet ek ek doen alles in my vermoë om werklik volgens die beginsels daarin vervat, te lewe, en ek merk ook duidelik die vrugte wat volg op die toepassing van daardie beginsels in my lewe. Tweedens wil ek net gehoorsaam wees aan God se Woord self, wat my in die boonste teksvers in soveel woorde bevéél om “tydig en ontydig” die woord te verkondig. “Tydig” verwys myns insiens seker na daardie geleenthede waar mens sou verwag dat iemand oor die Bybel sal praat, byvoorbeeld by die kerk, Sondagskool, Bybelskole, of in selgroepe. Maar “ontydig” verwys sekerlik na ál daardie ánder tye wat mens gewoonlik níé sou verwag dat iemand oor die Bybel wil praat nie, byvoorbeeld by die werk, om die braaivleisvuur, by die sport, in die straat, ensomeer. Hoe kan ek dan ophou? “Tydig en ontydig” sluit alles en orals in!

Wat ons egter nooit moet vergeet nie, is dat dit níks met ons menslike kennis van die Bybel te make het nie. Ons moet ALTYD in LIEFDE optree! Alle kennis kom immers van die boom van kennis van goed en kwaad en ons word ook deur Paulus daarteen gewaarsku:

“Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.  As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (1 Korinthiërs 8:1 – 3)

Hoe het Jesus gestap? Met kennis, of met liefde? Sekerlik bestaan daar geen mens wat vandag nog enigsens twyfel dat Jesus inderdaad in LIEFDE gestap het nie. En as ons God liefhet, ken Hy óns ook met daardie liefde. Die gevolg van hierdie ware Goddelike LIEFDE in ons lewens, is dat ons sal opgroei in wysheid en grootte en in genade by God en die mense, weer eens, net soos Jesus!

“En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.“ (Lukas 2:52)

Hoe kan ek so maklik sê dat ons selfs by die klein Jesus iets kan leer? Want Jesus het self oor en oor gesê ons moet soos klein kindertjies word sodat ons die wonderlike dinge van die koninkryk van God kan begin verstaan.

Na die voorval in die sinagoge, raak Jesus se verhaal stil vir die volgende agtien jaar en ons lees nie weer van Hom voordat Hy op dertigjarige ouderdom Sy verskyning maak nie. Net so gebeur dit sovele kere met kinders van God dat hulle reeds as jong kinders die pad met die Here begin stap en dan self vir jare lank iewers “wegraak”. In ons geval, in teenstelling met Jesus, is dit ongelukkig so baie kere omdat die vyand, die duiwel, ons in daardie jare met al sy verleidinge en versoekinge wégtrek van die dinge van ons Hemelse Vader, waarmee ons eintlik veronderstel was om mee besig te wees. Maar prys Jesus dat Hy dit in Sy ewige liefde so beskik dat ons wel almal op ‘n dag WIL terug na Hom toe, maak nie saak wáár ons intussen in die lewe gaan draai het nie, aangesien Sy ewige liefde ons nooit ophou trek nie:

“Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het EK jou GETREK met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3)

Sien jy? God hou nooit op trek met Sy wonderlike ewige liefde nie! En dit het tot gevolg dat so baie van ons, net soos die verlore seun, sélf keuses kan maak om terug te gaan, waarna Hy ons altyd op dieselfde liefdevolle wyse terugontvang. Prys ons Jesus Christus vir Sy genade!

(Uittreksel uit boek: “Kom stap die pad saam met Jesus” – tiaan gildenhuys)