Spiderman, Batman, The Hulk, Ninja Turtles ens.

//Spiderman, Batman, The Hulk, Ninja Turtles ens.
Spiderman, Batman, The Hulk, Ninja Turtles ens. 2018-02-26T11:37:57+00:00

Hi Tiaan

Prys die Here vir die wonderlike werk wat julle doen! Ons lewe was ‘n gemors (en dis om dit baie sagkens te stel).  Ons “skei” amper permanent, baklei, ons seuntjie is ‘n terroris, niks wat ons ooit doen werk uit nie, geld is altyd ‘n groot probleem, ens, ens. My skoonma het jul 2 DVD’s, “Identifiseer die Leuen” en “Maak skoon jou Huis”, vir ons gegee om te kyk.  Ons hou van Sondag aand heerlike “bonfires” – als wat afgode in ons huis was, word verbrand.  My seuntjie dra net al sy Spiderman, Batman, Superman en ander speelgoed en klere aan en geniet dit vreeslik.  Daar was soveel goed wat ons gebind het (n.a.v Identifiseer die Leuen) en ons kon dit losmaak met die gebed.  Ons voel soos splinternuwe mense.  Ons het ook ‘n pizza-restaurant en ewe skielik gaan dit baie goed.

My seuntjie, Julian, is 4 jaar en was nog nooit ‘n maklike kind nie.  Toe ons nou al die goed begin brand, wou hy weet hoekom.  Ons se toe vir hom dit maak Jesus se hart seer.  Ons het nie geweet hoe ons sy speelgoed en klere voor hom gaan verbrand nie, maar daar het ‘n Ninja Turtle buite gele en ons gooi dit toe op die vuur.  Hy gaan toe na sy kamer en begin al die goed in ‘n emmertjie bymekaarmaak.  Hy se toe dat dit hom baie bang maak.  Dis te cute om te sien – hy hardloop in en uit met sy emmertjie en elke keer wat hy iets vat, se hy:  “come on, get out of here”.  Toe ons begin om als te verbrand, was hy baie stout – toe ons die eerste speelding opsit was hy so kalm soos ‘n lammetjie.  Die aand toe ons moes gaan slaap (dis altyd ‘n vreeslike stryd), het hy ons kom se hy’s lief vir ons, soentjies gegee en gaan slaap.

Klein Julian se klerekas is nou leeg, maar die Here sal toesien dat ons sy klere kan vervang.  Ons baba, Ilanya, het ook ‘n paar “fairy” klere gehad.  Ek is ‘n ongelooflik sentimentele mens, maar dit was so maklik om als te brand. 

Nicolette Mandelstam

 

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

Tiaan en Joey

Dagsê almal, my naam is Monica en ek wil graag die grootheid en goedheid van ons hemelse Vader met julle deel, en ook van maar net ‘n paar wonderwerke in my lewe vertel.

My suster se seun het vanweë seer wat hy in sy lewe gekry het, betrokke geraak met verkeerde dinge, o.a. “astrology, numerology, unnatural healing powers” ens.  Sy ma het tot bekering gekom en ook by hom begin pleit om sy lewe reg te kry. Stadig maar seker het hy begin vrae vra, Bybel lees en sy lewe begin regruk. Ongeveer 3 maande gelede het hy by ons gekuier en ons het die “Maak skoon jou huis” DVD saam met hom gekyk. Dit was die finale spyker in die kis wat daartoe gelei het dat hy hom heeltemal reggeruk het, sy lewe 360 grade omgedraai het en hom bekeer het.

So 6 jaar terug – nog lank voordat ek van die DVD’s of van beter geweet het – het my seuntjie, Jeandré (toe 6 jr oud), soos al die maatjies van sy ouderdom “super hero”-speelgoed, beddegoed ens. gehad. Hy het spesifiek “The Hulk”-beddegoed gehad en hy het nag na nag kliphard op sy tande gekners. Hy het sy tande deurgekners, so erg dat sy tandjies gekraak het. Verder was hy in daardie tyd baie aggressief, ongehoorsaam, bang, ens. Uiteindelik het hy die fase ontgroei en het ek al die beddegoed ens. vervang met  gewone goed. Hy het dadelik opgehou tande kners, was nie meer bang nie, en hy het ‘n engel en droomkind geword. Nooit het ek op daardie stadium besef wat die wortel en oorsaak is nie! Dank die Vader dat Hy my oë oopgemaak het deur Tiaan se DVD’s.

Dan ‘n laaste ding wat ek graag met julle wil deel. My man Julius is ‘n klankingenieur en werk vir homself. Ons het al baie moeilike en swaar tye gehad en deurgemaak. Ons geloof was tot op die uiterste toe beproef, maar dank die Here dat ons sterk was en staande gebly het teen satan se aanslae op ons huwelik, ons gesin, ons lewens, ons finansies ens. Die werk was nie altyd volop nie en ons het maar swaar gekry. Maar vandat ons die “Maak skoon jou huis” DVD’s gekyk het en ons huis begin skoonmaak het, stroom die werk in en kan Julius nie byhou nie! Ons is so dankbaar want God seën ons behoorlik uit ons sokkies uit! Dank die Vader!

Die Heilige Gees wys nog daagliks baie dinge vir ons uit wat ons, en veral God ook, nie in ons huis en lewens wil hê nie. Met my getuienis hoop ek regtig om julle opnuut te laat besef hoe groot en absoluut goed en wonderlik ons Hemelse Vader is!

Baie dankie Tiaan vir die goed wat jy aan ons uitgewys het, mag die Here jou en jou gesin ook uit julle sokkies seën!

Groete

Die Dreyer Gesin

Annlin, Pretoria

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx