Walt Disney

//Walt Disney
Walt Disney 2018-02-26T11:37:57+00:00

More Tiaan

Ek wil ook net graag ‘n getuienis lewer, ek sal begin met Cars van Walt Disney. Ek het geweet ek moet passop vir Spiderman, Batman, Ben 10 ens maar ek het naief gedink dat Cars veilig is omdat dit net oor karre gaan. Ek het vir my seun Marcel 16 maande so ‘n slaap broekie gekoop. Ek en my man het die aand outoriteit geneem om geeste te bestraf wat via ‘n “christelike website”  www.jesusisoursavior.com deurgekom het waar eksplisiete beelde, sketse en prente van Pan opgekom het en ek veral asook my man deur vrees oorval was.

Ons het die geeste bestraf en hul het weg gegaan, maar toe ons weer vir ‘n laaste keer in ons aandgodsdiens bid en vra vir Jesus as daar enige geeste teenwoordig is wat nie van U af is nie moet hul die plek verlaat, het my seun reageer. Hy het heel nag onrustig geslaap en die volgende oggend wys die Heilige Gees vir my dat agter die prent van Cars was Pan versteek op sy slaap broekie. Ons het die dadelik vernietig.

Ek wil ook net dankie se aan Konrad van Rensburg wat vir ons baie geleer het met ons bevryding en dat ons verhouding met God herstel is. Ek wil ook dankie se Tiaan dat deur u dvd’s die Heilige Gees nou die Bybel vir ons vooruitgaan en openbaar. Die Here het nog nooit so baie met ons gepraat deur Sy Woord en Gees as vanaf ons geleer het by u om die outeur van God se boek te vra om dit te openbaar nie. Ons het ook na die rolle van die man en vrou geluister op u dvd en alles begin in plek val vanaf ons dit begin toepas. Dankie en hou asb aan met die goeie werk

God se rykste seen

Michele van der Vyver

Hi Tiaan,

Ek het vir my 3 en 5 jarige seuntjies ‘Cars’ beddegoed en nagklere gekoop. Dit het alles te pragtig gelyk. Maar ‘toevallig’ het my 3 jarige op dieselfde tyd ‘n hond in die huis begin sien. Hy het histeries geraak, aanvanklik in sy slaap en later selfs as hy wakker was. Die 5 jarige het begin nagmerries kry en so bloedstollend gegil in sy slaap dat ek elke keer met ‘n bonsende hart gesukkel het om weer aan die slaap te raak.

Ek het geweet van jou ‘maak-jou-huis-skoon’ reeks en vir jou ‘n e-pos gestuur. Jy het aanbeveel dat ek ontslae raak van die goed. Ek het die aand in die kamer gaan sit en na die beddegoed gekyk. Daar was niks ooglopends verkeerd nie, maar ek het gesmag na slaap en toe vir die splinternuwe goed ‘totsiens’ gesê. Net so ‘toevallig’ het die nageskapades opgehou en die hond is weg.

Pastoor Kobus Vosloo sê altyd daar is nie so iets soos toeval nie…. eerder ‘toe val die lig van God daarop…’

Dankie vir julle goeie werk. Ons bid vir julle.

Groete,

Willie en Annette Potgieter, Pretoria

(Terloops, ons het ‘Walt Disney’ finaal gegroet… vir hom en sy makkers het ons nie langer blyplek nie)

Beste Tiaan

Ek is ‘n Mamma van 3 pragtige kinders en ek wil graag my getuienis gee van wat ons ervaar het na ons die DVD’s van Maak skoon jou huis gekyk het. ‘n Jaar of twee terug het ons die eerste DVD van MSKH gekyk het ‘n KLOMP goed by die huis uitgegooi en sommige verbrand. Onlangs het ons by ‘n vriendin die volgende stel geleen en gekyk en weereens,  ‘n KLOMP goed begin verbrand en weggegooi.   Ons het ‘n paar frustrerende dinge in ons lewe gehad.   

Ons finansies was werklik moeilik,  ons kon net nie bo kom nie. Ons oudste dogtertjie het wilde en hardhandige maniere ontwikkel,  haar boetie en babasussie rof hanteer en haarself gedurig beseer op die een of ander manier.   Daarmee saam het sy gedurig haar lyfie betas,  tot ons groot verleentheid,  sommer enige tyd en plek deur die dag.   Sy het ‘n hoë giggeltjie aangeleer,  wat ons erg geïrriteer het. Sy het ook skielik gedurig en onophoudelik begin eet. Ons seuntjie het al meer huilerig geword en na elke slaaptyd in ‘n slegte,  huilerige bui opgestaan.

Ons het werklik in erns begin bid oor alles.

Die HERE het vir ons wonderlike antwoorde gegee en in die proses van losmaak en vrymaak, het ons ook soveel ongelooflike aanslae beleef,  wat net vir ons by herhaling bevestig het ons is op die regte pad !

Ons het AL die kinders se Walt Disney goed begin uitgooi.

Eerste,  ALLE Cars klere,  kombersie,  storieboeke,  video,  ens.

Net daar het my seuntjie se huilerige buie na slaaptye gestop.

My dogtertjie was baie lief vir Bambi en Winnie die Pooh.

Na ons alles daardie verwyder het en vir haar gebid het,  het haar konstante etery gestop,  haar lawwe giggeltjie het gestop EN haar gedurige betasting van haar lyfie het gestop !   Sy is heelwat minder hardhandig en ons sien al meer ‘n sagtheid en rustigheid na vore kom met tyd.

Ek het gaan dink en bid en oplees op internet oor Cars,  Winnie die Pooh en Bambi. Van die gedagtes wat ek hier onder noem is myne,  maar van dit kom ook van webwerwe af.

Laat ek by Bambi begin:

Die diere praat.

Die uil maak die baba Bambi heel in die begin bang en lag dan daar oor. Bambi word net deur sy mamma grootgemaak,  wat meestal in die dierewêreld so werk,  maar nie in ‘n klein kind se brein nie. Bambi se mamma word geskiet deur mense (mense word in die hele rolprent as sleg en negatief uitgebeeld) eers dan kom die pappa op die toneel.   Asof die pappa heeltyd bewus was van wat met sy ‘gesin’ gebeur,  maar nie betrokke raak nie.   Hy hou hom by die ramme en het geen verhouding met sy klein ‘seuntjie’ nie. Die dogtertjie-maatjie Faline se naam beteken:  a very sexy girl who knows how to move her body,  who knows what to do to get what she wants.  (www.urbandictionary.com).   Dit is presies haar giggel-maniertjie wat my dogtertjie begin namaak het. Daar is baie vrees in die rolprent:  die mamma wat geskiet word,  Ronno,  die honde en die brand. Daar is romantiese uitbeelding van volwasse verhoudings tussen die diere,  nog veronderstel om heeltemal buite die perspektief van ‘n jong kind te wees.

Cars:

Die karre praat.  Dit was my seuntjie se eerste beswaar toe hy dit die eerste keer sien ! (In retrospeksie kan ek nie glo dat ons aangehou het om dit vir die kinders te wys nie …) Daar is vrees en agressie en hatige gesindhede. Die simbool van Cars lyk net te veel na dieselfde seksuele insinuasie as die Vrymesselaar simbool. Daar is romantiese en grensend-aan seksuele konnektasie aan die kommunikasie tussen Lightning en Sally. Die hoofkarakter se naam het net soveel simboliek aan,  ek dink nie ek hoef dit eens te noem nie. Sally het ‘n ‘pinstripe tattoo’ agter op haar bak – in menslike liggaamsterme,  is dit agter op die kruis.   En Lightning merk dit op.  Sterk sensuele insinuasie. Daar is ‘n romantiese verhouding tussen twee karre.   Dis veronderstel om ‘n kinderprent te wees! Dan die ydelike gebruik van die naam van die HERE (Lord) deur Mater. Die ‘hippie’ kombi met die heksepoot simbool by sy blyplek. Die ‘dogtertjie’-karre wat aanhangers is by die resies,  wat hulle hoofligte flikker. Openlike ‘streetwise’ simboliek waaraan ons kinders gewoond gemaak word.

Die subtiele geluide van Thunder se ‘meisies’ toe hy die beker ontvang. Alles dinge wat in ons kinders se onderbewuste inkom.

Winnie the Pooh:

Christopher Robin praat met sy poppe en hulle praat terug met hom. Winnie die Pooh is ‘n uiters selfsugtige,  vraatsugtige,  selfgesentreerde beertjie met net een missie:  kos. Varkentjie is ‘n vreesagtige,  selfbejammerende en skrikkerige karaktertjie. Tigger is ‘n ‘bull in the china shop’.  Hy gee glad nie om vir skade of onrus of ongeluk wat hy ander aanbring nie.  Hy is hardhandig en onbedagsaam. Die uil is weereens die simbool van wysheid en kennis. Konyn is altyd bars,  nors en negatief. Eeyore is altyd negatief,  selfbejammerend. Kanga is ‘n ‘overly doting’ moeder wat haar seuntjie nie ver wil laat gaan nie.

Walt Disney was ‘n 33ste graad Vrymesselaar,  wie onder die Vrymesselaars gehou word as ‘n voorbeeld van goeie praktyk en sukses !

Verder het ons al die kinders se klere begin deurkyk.   Hartjies,  spirale,  woorde ens. en alles wat ons aandag getrek het,  verwyder.   Ek het ‘n menigte ‘labels’ afgeknip en heelwat klere stukkend geknip, weggegooi of verbrand.   Een spesifieke een wat ek wil noem,  is die Waga Dude etiket van Ackermanns.   Waga beteken “Oh man !” en Dude,  vlg www.urbandictionary.com,  se eerste verklaring,  is ‘n man wat uitsonderlik behep is met sy kleredrag,  voorkoms en maniere.   My seuntjie van 4 het begin om vreeslik om te gee wat hy dra.   Kleure moet by mekaar pas,  elke dag word alle klere van die dag in die wasmandjie gegooi.   Vandat ek alle Waga Dude etikette afgeknip en alle magte daarvan gebreek het,  is my seuntjie weer ‘n seuntjie !   Hy gryp wat ookal onder sy hand kom om te dra,  hy vergeet om sy klere in die was te gooi en trek sommer hemde verkeerdom aan, net omdat hy nie omgee nie – soos dit hoort by ‘n vierjarige seuntjie !!

Op die punt van spirale:  My ma het vir my ‘n baie mooi swangerskap-hemprok gegee,  met masjien-geborduurde spirale op.   Kort daarna was ek erg siek,  op 7,5 maande swangerskap.   Vir twee weke was ek dodelik moeg en lyfseer en het meestal net gelê,  terwyl ek twee jong kinders gehad het wat van my afhanklik was deur die dag.   Redelik gou kon ek die hemprok nie meer dra nie,  dit was te klein.  Die res van my swangerskap was sonder probleme en so ook my kraam.   Ek het die hemprok vir ‘n vriendin geleen saam met ander swangerskap klere.   Sy het self ook ‘n klein dogtertjie en toe kort daarna ‘n tweeling.  Haar kraam was traumaties en het in ‘n noodkeiser uitgeloop. Die hele eerste winter vanaf die tweeling se geboorte, was hulle hele gesin siek. Toe stuur sy al die swangerskapklere terug. In daardie tyd het ons die tweede sarsie Maak Skoon Jou Huis DVD’s gekyk.   Ek het begin ontstellende drome droom,  elke keer dat ek in ‘n vliegtuig sit en die vliegtuig val. Elke keer word ek ontsteld wakker net voor die val. Een aand bid ek vir wysheid. Die HERE vestig my aandag op daardie hemprok. Halftwaalf die nag staan ek op en gaan knip elke spiraal deur en gooi die ding in die drom,  terwyl ek elke mag wat daaraan verbind was,  breek in die Naam en bloed van Jesus.   Einde van alle drome !!

Die HERE is so wonderlik en getrou,  en baie,  baie dankie dat julle in gehoorsaamheid al hierdie inligting bekend maak. Die waarheid is wat ons vrymaak,  en hoe heerlik is die vryheid nie ! Mag die HERE julle seën in hierdie werk !

‘n Baie dankbare mamma. 

Alida Pretorius